{Dr. Seuss}
Your life was a blessing, your memory a treasure.
You are loved beyond words and missed beyond measure.
In the Summer of 2021, in the midst of the COVID pandemic, our beloved Kitta passed on. She will be greatly missed by her family members and the close-knit community of Lambert's Bay.
"Vir die een wat Sterf, is die dood nie die afskakeling van 'n lig nie. Dis net 'n lamp wat uitgeblaas word omdat die Dag gebreek het. Die gestorwe geliefde wat in ons gedagtes leef, is nie dood nie, Sy is net ver." - Kitta Burger, Nov 2020
Kitta se vader was Petrus Jacobus (Pieter) VAN EEDEN, gebore 1911. Hy word groot op die plaas Modderfontein by Balfour in die ou Transvaal. Hy kom werk in 1943 in die Calvinia-omgewing as boorman.
Kitta se Moeder was Bess LOUW, gebore 1915. Sy word groot op Nieuwoudtsville en gee later privaatonderwys op plekke soos Carnarvon, Williston en Fraserburg.
Hulle trou in 1945 en hulle gaan woon in Johannesburg vir drie en ‘n half jaar, voordat hulle terugkeer na die Namaqualand. Hulle enigste kinders Kitta en Bessie was gebore in Johannesburg.
In 1953 vestig die Van Eedens hulle permanent op Koekenaap, eers in ‘n huis langsaan die Apostoliese Kerk en later op ‘n kleinhoewe genaamd “Voorbeeld”. Drie en dertig jaar later in 1986 tree hulle af in Lambertsbaai.
Kitta en Bessie word groot op Koekenaap en gaan skool te Laerskool Koekenaap en Hoërskool Lutzville.
As gevolg van sy werk as ‘n boorman was Kitta se pa net naweke tuis. Tydens skool vakansies het hulle baie gaan bly by hul pa in die veld waar hulle in sy twee tente en ‘n karavaan in die ope veld gebly het. Dit is hier waar Kitta haar liefde vir die veld en diere ontwikkel het.
Bessie onthou een van die min gevalle wat haar pa hulle ‘n pakslae gegee het. Hulle was op pad iewers en Kitta en Bessie het agter in die kar baklei. Pa trek toe van die pad af, gaan pluk vir hom ‘n lekker lat in die veld en doen die nodige!
Hulle tienerjare val saam met die goue ’60 jare van Jim Reeves, Elvis Presley, Pat Boone, ‘boyfriends’, haarsteile, kort broekies, ens.
Die familie het altyd vakansies op Lambertsbaai deurgebring.
Nadat Kitta haar matriek jaar voltooi het, het sy in die Kaap studeer vir mediese tenologie en daarna as mediese tegnoloog gewerk tot die geboorte van haar eerste kind.
Kitta Burger Memories
Anika Burger
Jongste klein dogter
Hello liefste ouma , my hart is seer vandag om baai te sê . Ek mis my ouma onsaglik baie . Ek het vrydag my eerste skon gebak in gas vryheids . Soos ek dit sal noem n plaaskombuis skon . Ek mis ouma se moer koffie en mosselsop en ouma wat n wyntjie kom drink op sondae en n wit bakkie wat op gejaag kom wat een helse stof wolf agter na gelos het 😂ek mis ouma se spookstories en ouma se sagte hart wat mens altyd laat welkom voel het in die plaas kombuis en in ouma se huis . Ek mis dit om altyd in ouma se hakskoene rond te kon loop en ouma se toon naels te verf soos wat ek altyd het . Daar was nooit n grys haar in daai goue blonde hare van haar gewees nie sy was n vrou met n jong siel en beeldskoon . Almal altyd ontvang met liefde , almal altyd laat lag . Ek belowe ouma ek sal die klein kitta wees . Al moet ek daai pryke uithaal en rond dans . Skons , moer koffie en mossel sop sal altyd die plaas kombuis se top 10 bly . Ouma is my rol model , n sterk vrou wat onsaglike baie liefde gehad het om uit te deel . Sy was die lig straal van lambertsbaai . Pappa weet nie maar ek het al met daai bakkie dorp toe gery om chappies te koop 😂ek het daai plaas rooi geverf met daai bakkie . Bakkie het nie versekering nie sê sy “ 😂😂ek mis ouma , ek wens ek kon nog n laaste keer oumsie druk en teen die wang soen . Elke sondag namiddag het daar altyd n rooi lipstiek soen op ons wange gesit ❤️😂so n vrou soos ouma kitta sal nooit vergete raak nie . Ek mis die bakkery op die plaas . Ouma het my actually geleer resepte volg . Daai plaas brode was nog altyd die beste . Ouma is nou in n plek sonder seer en pyn en en al die dinge wat seer maak hier onder op aarde . Vertel al die spookstories daar bo ! Dis nie lekker om te verlang nie maar ek weet ons gaan eendag weer ontmoet en ek gaan ouma se hand vashou en n rooi lipstiek soen op die wang gee . Spry ouma se wit vlerke daar bo en leef ❤️lief vir ouma
Cara Burger
Oudste klein dogter
Aan my liewe ouma. As ek ouma kon beskryf sal ek ouma beskryf as die ‘ queen of hearts’. Ouma was die queen van ons almal se harte, en dis hoekom Liewe Jesus oums kom haal het op die dag van die liefde. Ek stuur nog elke dag vir ouma ‘n boodkskap oor whats app en al kan ouma my nie terug antwoord nie weet ek dat ouma hulle kan lees. Vandag is ‘n hartseer dag vir ons almal wat ouma agter gelaat het. Maar ek weet ouma sou dit nie so wou he nie, daarom is hierdie boodskap ‘n happy een. Ouma het my geleer van bokhorings eet en het altyd styf aan my lyf geklou as ons motorfiets ry na ons middagslapie. Ouma het vir my amarula gegee as ek by ouma kom oorslaap sodat ek nie moes wakker word deur die nag nie. Ouma het vir my stories gelees al was ouma hoe moeg. Ouma het vir my melk en oros opgebring huistoe as onsin opwas. Ouma het ELKE liewe keer vir ons genooi vir koffie en scons met die beroemde spookstories wat saam op die pierring kom. Ouma het vir my skelm ouma se bakkie gegee en skelm n sakgeldjie in my sak gedruk en dan soos n stout kind weggehardloop. Ouma se woorde was altyd: ‘Al het ek min, is die wat ek jou kan gee. Eendag is ek nie meer hier nie, en dan het ek nie die voorreg om dit meer te doen nie. Ek sal al ouma se geld vir ouma terug gee vir nog net een drukkie. En dis die ouma wat ek sal onthou. ‘n Bitter stout, cool, fun en happy ouma. Niemand kon compete nie. Ek sal ouma vir nog ‘n miljoen keer nodig he, en vir nog ‘n miljoen keer trane stort, as liefde alleen ouma kon red sou ouma nooit gegaan het nie. Ek het ouma diep lief gehad hier op aarde. Maar ek het ouma nogsteeds diep lief daarbo. Ouma se plek in my hart sal nooit gevul kan word nie. Daarvoor is daar te min spookstories en pruike in die wereld. Dit breek my hart om so ‘n sagte siel op so ‘n manier te verloor. Maar ek weet ouma is nie alleen weg nie. ‘n stukkie van my hart is sammet ouma op die dag toe Jesus ouma huistoe gevat het.
Antonieta Jerardino
Family Friend
I met Kitta in 1992 when beginning with our archaeological studies in Steenbokfontein farm. From there on a beautiful friendship developed with the Burger family, where Kitta played a key role. After a full day of work at the big koppie, there was always time for a chat with Kitta about progress done in the day, usually around a cup of tea and scones. What a nice reward after many hours of work! Sometimes, we also enjoyed evening meals when visitors came to the Plaaskumbuis. We were always very welcomed by Herman and Kitta throughout the years when doing research in Steenbokfontein farm, and were also assisted in any way possible. In one of those work seasons, Kitta looked after me at her home when I caught a typical early summer stomach bug that got me down for a full day and a half. Step by step, I got better thanks to her loving care and endless cups of lovely rooibos tea. On another occasion, after some big personal problems, Kitta told me that one could not read a person like a book. This advice has been with me since then and I have offered it to others over the years. Much of my professional career I owe to the Burger family, and particularly to Kitta’s and her motherly love, even in the distance, now that I am far away on another continent, but only for the time being. Fare well Kitta, you are now in a land too far away for me to reach for now, but I am sure you are well looked after in the company of our merciful Lord. May you be peaceful, and may the pure and everlasting light of the Lord be with you forever.
Kobus Burger
Eldest Son
HULDEBLYK vir MA KITTA BURGER
My ma was ‘n boek op bene. ‘n Roman vol karakters. Veelsydig, veelvlakkig en alles en nog wat – sorgvuldig verpak in ‘n verrassingspakkie. Ja, daardie outydse Lucky Packet met soetgoed.
Ooohhhh!!!! Baie soetgoed, ja. Sy was lief vir die soet van die lewe. In die middel van die nag, op die vooraand van Pa Herman se chemo-behandeling word ek wakker van ‘n geritsel. Ma is besig om ‘n pakkie lekkertjies uit haar handsak te verorber. Het jy my gehoor? Wil sy die volgende oggend verbaas weet toe ek terg-terg vra of sy die rot gehoor het.
My ma was woorde wat mense geword het. Storievrou en oorrompelende verteller. Ryk in verbeelding en stout met haar pruike en personasies.
Lief vir die klank van verse. Soos Klara Majola. En het my tydens my skooldae vir menige debatsaand en redenaarskompetisie voorberei. Sy lees ywerig en vurig en deel boeke met my.
Ma kon ‘n vlermuis met ‘n tennisraket vang. As dogter van ‘n boorman waar sy tussen tente en in die sand grootgeword het, leer sy ons van uintjies uitgrawe en bokhorings pluk.
Sy was ‘n gedagteleser wat toegevoude briefies in haar nek kon lees. My mamma kon toor! En tussendeur haar performances kon sy bop en twist asof sy nog ‘n tiener was.
Lief vir mooi klere en juweliersware met ‘n fyn oog vir ‘n winskopie. As mense vra waar sy die besonderse bloes of rok bekom het, het sy dit afgelag. Ag, sommer die Boetiek op die Hoek. Die Boetiek op die Hoek was Pep Stores waar sy mooigoed vir ‘n appel en ‘n ei kon koop.
Ma was die enigste mens wat ek ken, wat van poefters en mense met “wit lewers” gepraat het. Ma was stout en ondeund en het gespot: “ ‘n ring maak nie ‘n gat toe nie”.
Goedgelowig en goedhartig. Altyd ‘n geldjie uitgehaal vir die bedelaars. Ma, maar hulle gaan nou dwelms of drank daarmee koop. Ma het gegee, al haar sente en drome, vir ander.
Dienende Marta en Barmhartige Samaritaan. Ma het reggestaan met iets te ete en te drinke. ‘n Nuwe resep wat sy opgewonde wil probeer, maar die meeste bestanddele is duur en onbekombaar. Dan het Ma daardie resep opgetower met dit en dat wat met dié en daai in die kas vervang is. Die eindproduk so smaaklik en waarskynlik beter as die oorspronklike.
Nederig het sy nog onlangs verklaar – nee, ek kan nie kook nie.
Gelowige. Ouderling. Wysgeer. Verkleurvroutjie. Vriendin. Ma was gefassineer deur mense en het ‘n vriendekring sonder gelyke gehad. En o so verslaaf aan die foon met soveel kosbare foto’s en tientalle Whatsapp-gesprekke en -groepe. As daar iets fout was met die foon, het sy onbeskaamd gevloek en deurgejaag na die Pakistani wat dit in ‘n japtrap moes regruk.
Ai Ma, as ek maar nog net een keer kon aansit in die Plaaskombuis en jou hartskos kon proe. Of jou boodskappies met liefde, aardse omgee-wysheid en gebede kon lees.
Dan die spyt. Ek wou jou nog een ding vra. En ek het nooit nie. Ek wou jou soooo graag vra om tog net in die Plaaskombuis te kom spook. En gereeld. Dat jy by die kop van die tafel sal kom aansit, nes ouma Betjie en ons gereeld herinner dat jy hier is en naby. Want sonder jou is die wêreld vandag valer en minder rooi.
Jy was gek oor die skrywer Jeanne Goosen. En soos haar bekende boek se titel sou jy ook oor en oor kon verklaar – “Ons is nie almal so nie.”
Ek groet jou met Jeanne Goosen se gedig:
Dood met jou lispeling, soet
Sonore stem
Omarm my, koester my
Teen jou pragtige hol bors
Hoe lieflik die leegheid
Die volheid daarvan om krysend
Die tog mee te maak seëvierend
Na die ver, onbekende planeet
Wat roep en roep en roep en roep
Jeanne Goosen, Het jy geweet ek kan toor?
Helena Pienaar en Carl Joyce
Friends
Ons het tannie drie jaar terug ontmoet met ons eerste 3 weke vakansie in die Weskus Grotjie 🤣
Ek onthou ons moes baie mooi vra of ons asb die 1ste Sondag in die Plaaskombuis kan kom eet, Tannie het eintlik nie plek gehad nie want die jongmense van die Kerk was daar maar het plek gemaak vir ons tweetjies!! 😊
Daar het alles begin...dit was verseker die snaakste mees spesiaalste middagete wat ons nog beleef het met al die grappies, verhale en die spook....😇
Die volgende dag toe Carl sy oe uitvee moes hy locum op die dorp want Tannie het vinnig plan gemaak om te laat weet daar is n dr wat kan uithelp met hulle krisis by die praktyk 🤣🤣 ons lag nog elke keer as ons dit vir iemand vertel....(Hoe kon ons nee se tannie Kitta het dan gereel 🤣🤣)
2019 het ons die voorreg gehad om saam Kersfees te kon vier, Tannie se stories, grappies, omgee, was altyd iets besonders!! Ek kon my verluister hoe Tannie met Carl gesels oor so baie staaltjies dit was so mooi om dit te hoor...😚
2020 was ons 3de Desember saam. Tannie Kitta het ons so bederf met varsgebakte brood (wat sy self by die grotjie se stoep kom aflewer) moerkoffie en skons en yskastert op Kersdag in die Plaaskombuis, die beste gemmerbier en baie gesels en grappies later..... Ons weer so stout vertel van Albert se lang hare, die snaakse Hollandse woorde en nog baie ander, al die spesiale briefies wat sy oor tyd bymekaar gemaak en gelamineer het het sy elkeen met ons gedeel om die kombuistafel saam met Oom Herman, ons selfs die spesiale plant agter die huis gaan wys...op so stout skelm manier 🤣🤗
Tannie Kitta ons is lief vir jou, so baie lief.. jy het ons so laat lag as ons terugdink aan 3 Desembers saam met jou dan kom daar altyd n glimlag...en dit sal vir altyd so wees...
Dankie vir wie Tannie Kitta vir ons was en dat ons die voorreg kon he om tannie te kon ken!! Ons wens dit was nooit nodig vir totsiens se nie 😔
Ons sal altyd Tannie se "last touch" onthou!
Isabel du Plessis
Friend
Soos die moes-groet van jou verlede week, swaar en hartseer was vir een en almal wie jou geken het, só inspirerend en vrolik sal die vorentoe-onthoue van jou opgewondenheid oor die lewe, jou onbaatsugtige menswees en jou onvoorwaardelike liefde vir jou familie ons aanhou inspireer om ook soos jy, aan te hou glo in die goeie.
Met hierdie paar geleende en aangepaste woorde uit Henry Miller se "The Colossal of Marrousi" wil ek jou eer omdat dit jou as mens so perfek beskryf:
KITTA:
She comes to you
Filled to the brim with life.
She overflows
She fills you too.
She asks nothing in return.
She does not ask you
on which side of the fence you are
Because the world she inhabits
has no fences.
By habitually exposing herself
to all that life has to offer
She reveals her strengths, her weaknesses and her faith
AND that has made her immortal.
Ek sal nog graag eendag vir L.baai se mense spesifiek en dan ook vir die res van die streek se mense, wil vertel hoeveel kere ek met jou Ma se interessante stories en haar liefde vir verhale en geskiedkundige feite van die mooiste en geloofwaardigste bemarkingsaksies gedurende die beginjare van Toerisme-ontwikkeling in ons streek, kon loods vir die toerisme-mark wat in 1988 nog daar ver buite ons streek was.
Kitta kon altyd die regte mense wie sy geken het en partykeer net van gehoor of van geweet het, vir my deurgee vir vele televisie-programme en radio-onderhoude en artikels oor ons streek.
Sy was vir my een van die weiniges wat regtig die streek se unieke daaglikse "way of life" soos oor die jare uitgeleef in ons Kos, ons Taal en ons Musiek baie goed geken en verstaan het.
Soveel mense wie ek nie geken het nie, het sy vir my van vertel en dis deur baie van "haar mense" wat die streek se aanvanklike bemarking so uniek en geloofwaardig uitgedra kon word.
Mense soos, die toe nog onbekende Zirk Berg, kon ek selfs later jare gebruik om Grietjie van Garies se CD te maak.
Zirk en Grietjie het daarna aangehou om oral oor die land op al die Kunstefeeste se verhoë deur hul populêre vertonings ons streek se uniekheid verder uit te dra en bemind te maak.
Kitta het ook vir Anton van Zyl, van Lbaai, vir my eerste televisie program op Spies & Plessie gegee. Anton het sy kant so ongelooflik gebring met sy unieke bydraes dat ons program 'n artes- toekenning ontvang het plus ander pryse.
Die kosprogram saam met Lochner de Kock waarvoor ek haar gevra het om ons streek se tradisionele kosse in haar Plaaskombuis voor te berei en in die Plaaskombuis voor te sit, was volgens die vervaardigers, die beste van al die kosprogramme daardie jaar.
Vir my heel eerste reeks radio-programme oor die streek waarvan die eerstes op Mohammed Sheikh se program "Roepstem van die See", uitgesaai is, was die meeste van die programme haar stories wat ons verwerk het.
Ek sal altyd vir Kitta onthou en eer as dié persoon deur wie se belangstelling in en liefde vir mooi verhale, fabels en feite oor ons streek, vir my altyd so ongelooflik beïndruk het.
En so het dit dan gebeur dat dit die Mense van die Weskus en al die verskillende omliggende Blomstreke was wat ons streek as 'n by uitstek unieke en baie populêre toeriste-bestemming in S.A kon vestig.
Matrieks 1965
Hoerskool Lutzville
19 Leerlinge in matriek - 12 meisies en 7 seuns met Kitta van Eeden as hoofmeisie en Dirkie van Zyl as hoofseun. Daar is reeds 4 seuns oorlede en Kitta is die eerste van 12 meisies.
Alta (+ Danie)
Kitta se lewe was soos ‘n bybel vir God. Vir sommige mense was dit die enigste bybel wat hulle gelees het.
Elsabe (+ Pieter)
Dis met seer harte dat ons afskeid neem van Kitta. Sy was so ‘n dinamiese persoon wat elke persoon met soveel hartlikheid en liefde behandel het.
Linda
Kitta se laaste boodskap aan my: So wonderlik dat ons al van skooldae af vriende is en nog steeds vir mekaar omgee. So sal ek jou onthou Kitta: OMGEE MENS.
Nieuwoudt (+ Wilna)
Sondagoggend se boodskap het my as klasmaat hard getref en was so onwerklik. Voel ek het ‘n suster verloor.
Bertus (+ Anna)
Saam met Kitta in Koekenaap grootgeword en saam met haar en Herman in Hartenbos vakansie gehou. Ons bring hulde aan n Ikoon en sal weer in die hemel ontmoet.
Floris (+ Ansie)
Goedheid en guns met baie liefde het jy altyd uitgestraal. Nou is jou teenwoordigheid weg.
Judith (+ Koos)
Kitta, dankie dat die Vader beplan het dat ek jou kon ken. Jy het voetspore in my lewe nagelaat.
Magdalene (+ Hendrik)
Ek sal ons lekker saamspeel dae in Koekenaap vir altyd onthou. Was altyd so opgewonde om mekaar te sien.
Miems
Stilwees is nie ‘n sekere teken. Dat daar geen geheime seer is nie. Onuitgesproke smart is die swaarste las om te dra.
Rika (+ Johan)
Kitta het die goeie wedloop afgelê en die wenstreep bereik. Nou wag die oorwinnaarskroon vir haar.
Kobie
.Liefste Kitta, om totsiens te sê was nie in my toekomsvooruitsigte nie. Jy was my rolmodel. Jou vriendskap en ondersteuning in my eie hartseertyd sal ek nooit vergeet nie.
Susarah (+ Johan)
Viooltjies vir my vriendin. Uit my hart se tuin. Want Kitta jy was kosbaar.
Susan (+ Jack)
Jes. 38 : 12. Jou aardse woning is opgebreek en weggevoer soos n herderstent. Opgerol soos n wewer se weefsel. Ons salueer jou nagedagtenis.
Sarah
In 2005 reël Kitta en Dirkie, 40 jaar na matriek ons reünie in Lutzville. Ons onthou, kuier en gesels. Daarna bly ons in kontak en stig groep Matrieks ‘65 waar ons elke dag groet en mekaar se vreugdes en laste dra en spog met ons kleinkinders (Oumas en Oupas mag maar). Twee vroue gee in die afgelope 15 jaar mans aan die dood af en nou tot ons almal se hartseer Kitta se dood. Ons het nog elke dag haar siekwees tot eerste 3 dae in die hospitaal gedeel. Ons bid later net: Here laat U wil geskied.
Ons as groep simpatiseer met die Burger Familie, haar geliefdes op aarde.